NOORD-KAAP. – Lede van die Douglas-buurtwag, wat bestaan uit vrywilligers uit die township wat misdaad beveg, het twee verdagtes wat glo ’n motor gesteel het, vasgetrek. Die motor is ook aan die eienaar terugbesorg.
’n Wit Renault Kwid is op 1 Januarie 2021 op ’n plaas op Douglas gesteel. Die eienaar van die motor het die Douglas-buurtwag in kennis gestel waarop hulle die voertuig binne ’n uur opgespoor het.
Die voertuig is verlate by ’n sokkerveld in Breipaal gevind.
Lede van die buurtwag het vir om en by vyf ure in die veld gelê en vir die verdagtes gewag. Omstreeks 22:10 het twee mans na die voertuig teruggekeer en probeer om met die voertuig te ry toe hulle deur lede van die buurtwag verras is.
Die polisie is ontbied en die verdagtes is aan die polisie oorhandig. Die eienaar van die voertuig is in kennis gestel.



