*Chantelle von Molendorff deel haar en Anton Swart se ervaring toe hulle positief vir Covid-19 getoets het.
MR. RONA – LEES ASB!
Ek het lank sit en dink aan my volgende boodskap en ek dink ek het selfs die Here later so deurmekaar gepraat met die hoop dat ons sommer gesond word.
Ek voel dis my plig as Christen om ons ervaring te deel met julle daar buite.
Ongelooflik vreesaanjaend
Vir twee weke het ek my lyf verpleegster gehou vir n baie, baie, BAIE siek man. Laat ek vir julle sê daar is niks so ongelooflik vreesaanjaend soos om die man wat jy lief het te sien wegkwyn nie. Die stres, die bid, die trane, is later net nog ‘n roetine. Bakke vol spoeg en slym skoonmaak, leegmaak en aandra. Allerhande ander liggaamsvloeistowwe uitsorteer wat eenvoudig net moet uit. ’n Man wat vier keer my spiermassa, lengte, en liggaamsgewig is (ek is nou meer as ooit oortuig hy is van staal gemaak!), optel, neerlê, afspons, afwas, smeek om te stort, dra op my skouer sodat hy kan loop en FORSEER om te eet. Nie eens om te praat daarvan dat hy hardkoppig, moeg en swak is nie. Saans probeer ons om sy koors te breek. Ek hou hom ook warm as die koorsstuipe en kouekoors inskop en dan weer afkoel as die erge koors kom. Dit was ‘n totale nagmerrie en dit was nog net die maklike deel gewees…
Ek skiet ’n gebedjie op…
Chanetlle von Molendorff
Op 23 Desember gaan Anton vir sy Covid-19 toets by Gansbaai. Na dit is hy sommer weer homself en ons het tot ‘n draai langs die see gaan ry soos oudergewoonte en maak planne vir ‘n Kersete.
Kersdag kom en Anton lyk asof hy op sy laaste is… Die dag wat almal jubel en juig vir Jesus klim ek in my nuwe kar en jaag met alles in my van Gansbaai af Worcester-hospitaal toe (my hele lewe op die passasiersitplek langs my). Ons is verby prettige vakansiegangers. Verby ’n oom wat sy kar afgeskryf het en mense wat saamdrom om ’n ongelukstoneel. Ek wil stop vir die oom, maar ek kan nie, want my eie krisis sit reg langs my. Ek skiet ’n gebedjie op vir die oom en ’n dankgebed vir die mense wat reeds help. Die sweet tap my af en met elke druppel wat val, voel dit soos nog ’n uur wat Anton sonder hulp is.
My hart breek van vooraf
Daardie middag 12:00 is Anton in ongevalle en heeldag besig met toetse. Die dokters bel en skel vir sy toetsuitslae om vinniger te kom. Ambulanse jaag in met kinders, verpleegsters en dokters hardloop soos afkophoenders rond. Daar stop ’n paramedic met ‘n jong dogter pap in sy arms. Sy oë lyk moeg en hy klim terug in sy ambulans en verwyder sy masker. Hy het ’n baard, ’n lang een, een nes Anton. My hart breek van vooraf, ek wonder of hulle twee sou wenke uitdeel oor hoe hul baard groei of saamstem oor hoe die maskers hul baard altyd trek. Ek wonder of ek ooit weer die baard waarvoor ek so lief is sal sien. Sal Anton sy baard moet afskeer vir gesondheidsdoeleindes? Gelukkig het die dokter gesien dit sou Anton nog erger “gesondheidsprobleme” gee. Ek het buite in warm son gesit. Gevoel of ek gaar brand saam soveel ander wat nes ek voel oor ’n geliefde daarbinne. Later sê Anton ek moet huis kry.
Alleen en op suurstof
Kom by die huis en maak gereed vir Anton wat dalk sal oornag. Ons kry toe sy uitslae terug, hy is positief. Vyf dae het verbygegaan waar Anton alleen en op suurstof in die hospitaal moes lê. Ek mag nie gaan kuier nie, mag ook nie ekstra klere of ’n lekkerny vir hom neem nie. Ek moes nagte om lê en wag oor wat ek die volgende oggend van hom gaan hoor en of hy okei gaan wees.
Gelukkig vertel hy van die vriendelike en hulpvaardige mediese personeel en dat hul mooi na hom omsien.
Ek sal ook hierdie aaklige virus moet beveg.
Chantelle von Molendorff
Toe bars die bom… Dag 3 en ek kry ’n koors van 39.8⁰C. Ek hoes, my maag is deurmekaar, ek voel asof ek enige oomblik kan omval. My rug voel asof hy by my vel wil uitklim. Ek kom tot die nare gevolgtrekking dat ek, nes Anton, hierdie aaklige virus sal moet beveg. Albei van ons doen steeds. Al is Anton vandag ontslaan en ek sterk genoeg om nog self te kan asemhaal, wil ek ander waarsku.
Jy veg letterlik vir suurstof
Ja TB, Vigs, kanker, hongersnood en 1000 ander siektes is ook daar buite, maar hierdie is geen grap nie. Ons is jonk, avontuurlustig, in ons twintigs en ons was PLATGETREK. Dis die eerste keer in my lewe wat ek moes dink en myself herinner om asem te haal. Iets wat eintlik so natuurlik kom. Nie meer nie, jy veg letterlik vir suurstof!
Ek wil graag die volgende wenke deel indien enigiemand siek raak of dit net wil verhoed:
Voorkoming:
●1000mg Vitamiene C
●Vitamiene B
●Vitamiene D en 15-20 minute se sonlig daagliks
●Sink
●Vloeistowwe, baie water asook warm vloeistof soos sop, rooibostee
●Gekookte water met suurlemoen, gemmer en heuning in wat daagliks, soveel keer moontlik, gedrink kan word. So warm as moontlik
●Eet avo, knoffel, gemmer, nartjies, lemoene, suurlemoene, piesangs, druiwe, hierdie goed se pH is hoog genoeg om die virus te dood
Behandeling :
●Vicks
●Stoom jouself daagliks om die kiem bo in die neusholtes dood te maak voor dit longe toe beweeg
●Medlemon
●ACC200
●Corenza C
●Disprin
●Panado/Paracetemol
●Hooikoorspil
●Dieselfde dinge wat gedoen word vir voorkoming moet hier ook gedoen word!
●Voltarensalf, vir as jou rug pyn soos myne. (kortisoon en antibiotika was voorgeskryf vir my, maar nie almal benodig dit nie. Ek ly reeds aan n outo-imuunsiekte en moes daarom ekstra stappe neem.)
●As jou eetlus swak is, eet jellie, jogurt, sop, Cup a Soup, roomys, kapokaartappels, ens.
Vermy anti-inflamatoriese medikasie, aangesien die virus vaskulêr is. Bedoelende dit word respiratories (deur mond of neus) oorgedra, maar vind eintlik plaas in die vaskulêre sisteem (jou are en bloedtoevoer). Dis waarom mense se suurstof daal, want die are kan nie genoeg suurstof na die longe vervoer nie. Anti-inflamatoriese medikasie is taboe vir vaskulêre siektes. Disprin sal help met bloedverdunning om vervoer in are te vergemaklik.
Ons gaan weer behoorlik feesvier
Laastens dra jou masker, saniteer en bly soveel moontlik weg van ’n klomp mense. Ek weet dis erg, maar glo my tot jy veg vir asem en nie kan opstaan nie, want jou longe verhard en kneus jou rug, sal jy twee keer dink of daardie partytjie die moeite werd is. Ons sal hierdie duiwel ook oorkom en dan behoorlik feesvier.
Daar was mense wat ek in ‘n kwessie van nie eers ‘n week nie moes sien wegkwyn as gevolg van die virus. Anton het gesien hoe kom en gaan die lyke verby hom terwyl hy aan masjiene vir suurstof gekoppel is. Daar is mense saam met hom in wat net nooit weer saam sal uitkom nie.
Ek bid vir jou
So hiermee vra ek wees veilig, wees verantwoordelik en klou met alles wat jy het aan God, want dit kon ek of jy op suurstof gewees het. Dit kon ons wees wat nooit weer ons geliefde sou sien nie, dit kon ons wees wat in ’n hospitaalbed wakker word en gisteraand se bedbuurman is nou net weg.
JY’S NIE IMMUUN NIE, JY’S NET IN GOD SE GENADE
Dan wil ek ook net sê vir die wat siek is en veg, ek bid vir jou. Dié met familie wat siek is, ek bid vir jou en dié wat mense verloor het, ek huil saam met jou.
Ns.: Medisyne is duur of jy medies het of nie. Apteke se voorraad raak op. Volg jou boererate wat altyd goedkoper uitwerk. Eet gesond, oefen, pas jou liggaam op en wees verantwoordelik. As jy dit nie kan bekostig nie, gaan dadelik hospitaal toe.
Baie liefde en blessings ❤
#coronasurvivors



