NOORD-KAAP. – Die polisie in Kimberley is op soek na twee verdagtes, ’n man en ’n vrou, na ’n vrou se selfoon met geld uit Lemon Tree-restaurant in Angelstraat gesteel is.
Haar selfoon is weg
Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê op 29 Oktober 2020, om 13:18, het die verdagtes Lemon Tree binnegegaan. Volgens Jansen het die man met een van die werknemers gesels en baie vrae oor die spyskaart en pryse gevra. Die vrou het die winkel deurgekyk, waarna sy en die man die winkel verlaat het. Jansen sê die kassier het toe besef haar selfoon is weg. Daar was ook kontant agter in die telefoonomslag.
Beskrywing van die verdagtes
Die vrou het ’n pienk T-hemp gedra. Sy is tussen 30 en 35 jaar oud, donker van kleur, het donkerbruin oë en hare, en het ’n skraal bou. Die man is tussen 35 en 40 jaar oud. Hy het ’n blou sweetpakbaadjie en ’n swart bofbalpet aangehad. Hy is ongeveer 1,7 meter lank, donker van kleur en bonkig gebou. Hy het donkerbruin oë en hare. Hy het Afrikaans gepraat.
*Foto’s en beskrywings deur polisie gegee.
Volg FiND iT hier.



