Niks. Net mooi niks.

Deel hierdie storie / Share this story

Ek ry so paar jaar gelede saam met ‘n vriend van Kaapstad na Victoria-Wes. Soos die skoonheid van die Moederstad in my truspieëltjie verdwyn, groet die Karoovlaktes my grou. My vriend, ‘n Karooling in murg en been, glimlag soos sy tuiste vir ons wink en sê: “Jy weet, hier is niks nie, maar dis mý niks.”

Ek wonder stilweg oor my nikse. Jy weet, daardie nikse wat ons so graag wegsteek vir die wêreld omdat ons vrees dat dit nooit genoeg sal wees nie. Die nikse wat ons prysgee vir kortstondige aanvaarding en die gevoel dat ons êrens behoort.

Dalk is jou nikse die droom wat jy nog altyd wou najaag, die loopbaanskuif wat jy al lankal moes maak of bloot net die gevoel dat jou alledaagse bestaan eenvoudig niks in die wêreld se oë is nie.

Omarm jou niks, mens. Omarm ‘n ander se niks. Gou sal jy sien dat rykdom en skoonheid in die eenvoudige, daaglikse nikse van ons bestaan lê.

Ek sien van nou af net. mooi. niks.

Deur: Marnette Brewis