DURBAN. – ‘n Vrou van Umbilo in Durban moes Maandag mediese behandeling ontvang na haar ringe van haar vingers afforseer is.
Andreas Mathios, woordvoerder vir Blue Security, sê die vrou was besig om by haar motorhuis uit te ry toe ‘n groep van vier mans haar en haar werknemer voorgekeer het. Een van die mans was gewapen.
‘n Blue Security-wag het kort na die voorval op die toneel aangekom en die tuinier het hom van die roof ingelig.
“Die inwoner en haar werknemer is met kabelbinders vasgemaak en by die kantoor ingeboender. Die verdagtes het daar die kantoor deursoek vir waardevolle items voor hulle met ‘n skootrekenaar, ‘n rekenaar, ‘n kamera en twee selfone weg is.”
Die vrou se hande is beseer toe die verdagtes die ringe aan haar vingers met ‘n draadknipper (side cutter) afgesny het.
Die Umbilo-polisie ondersoek die saak.



