Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].
Anonieme lesersvraag:
Ek spaar al heeljaar en het vir my man ’n baie duur Kersgeskenk gekoop. Dit is iets wat hy baie graag wil hê en dit is vir my lekker om hom te bederf. Ek ontvang ook graag geskenke, maar meestal oor die moeite en gedagte wat daarin gaan. My man koop egter nooit vir my ’n Kersgeskenk nie en maak elke jaar asof hy vergeet. Hy het laas jaar inderhaas op die 24ste vir my ’n patetiese geskenk gaan koop, iets waarvan hy weet ek nie hou nie en ook nie gebruik nie. Dit ook net omdat ek gekla het. Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek wil ook graag bederf word en nie ’n nagedagte wees nie.
Antwoord:
Anoniem, soos dit vir my klink, het jy al met jou man hieroor gepraat, maar ek dink nie jy het dit vir hom so mooi verduidelik nie. Ek sal voorstel jy sit en verduidelik mooi, soos jy hier gesê het, dat jy nie ’n nagedagte wil wees nie. Indien hy dan nog steeds nie vir jou moeite doen nie, vat volgende keer jou gespaarde geld en spandeer dit alles op jouself.



