Benjamin Cooper, bekend as Chuck Kaaswors, is uit die Chuck Kaaswors-huis verwyder en is terug na sy vorige woning. Dit volg nadat die bekende op sosiale media glo die reëls van die huis gebreek het deur ’n prostituut na die huis toe te neem.
Benjamin Cooper was ’n karwag wat deur Fanie de Jongh, ’n besigheidsman, bekend gemaak is vir sy grappe en snaakse sêgoed. De Jongh het vir Cooper oral op sosiale media profiele geskep en self vir hom geld en donasies ingesamel.
Daar is ook later vir Cooper ’n huis gebou, maar saam met die huis het reëls gekom.
Fanie de Jongh het gister op Chuck se Facebook-bladsy ’n persverklaring uitgeruik wat sê Cooper het die reëls gebreek deur ’n prostituut na die huis te neem. Verder sê die persverklaring dat alles sosiale media van Chuck Kaaswors verwyder sal word.
De Jongh het ook vanoggend omstreeks 09:30 in ’n regstreekse uitsending op die Facebook-bladsy aangekondig dat Cooper nou terug is na sy vorige woning. “Ons het sy TV vir hom gevat, die plek vir hom gaan skoonmaak en gaan vir hom ’n yskas koop. Die geld wat mense geskenk het, sal ook na Chuck toe gaan,” het De Jongh op die video gesê.
Aanhangers van Chuck Kaaswors is baie ontsteld en het hulle ongelukkigheid op die bladsy uitgespreek.
De Jongh sê egter die reëls was in plek gestel om ’n rede en hy sal dit nie verder kan toelaat nie.



