Smithfield-moord: Saak staan oor tot Maandag

Deel hierdie storie / Share this story

SMITHFIELD. – Die drie verdagtes wat in verband met die moord op Poenkie Bisset in die hof verskyn het, se saak staan oor tot Maandag vir regshulp.

Andries Matsoele (43), Motlatse Mahapane (38) en Msokoli Mnyameni (44) het vandag in die Smithfield-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, diefstal en roof.

Die drie verdagtes is in hegtenis geneem weens die moord op Bisset op hulle plaas Korhaanfontein.

Arthur Bisset, ’n boer in die Vrystaat, het Maandagoggend op Poenkie, dood langs haar voertuig, op hulle plaas afgekom.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê Arthur is om 07:30 uit om na die krale te gaan ná sy vrou vir hom gesê het sy gaan net die wasgoed klaarmaak.

“Toe hy ongeveer 11:30 na die plaashuis teruggekeer het, het hy op haar langs die motor afgekom,” sê brig. Makhele. “Die huis was gesluit en die motor- en huissleutels is by haar gevind.”

Sy het steekwonde agter haar kop en aan haar nek gehad.