ENGELAND. – Twee NHS-werkers het ’n allergiese reaksie gehad nadat hulle die Pfizer-entstof ontvang het.
Volgens BBC News het albei die werkers ernstige vorige allergiese reaksies teenoor kos en medisyne gehad. Albei dra adrenalienpenne met hulle saam. Die werkers het ’n anafilaktoïede reaksie gehad, wat geneig is om veluitslag, ʼn tekort aan asemhaling en soms ‘n daling in bloeddruk te veroorsaak. Anders as anafilakse is die anafilaktoïede reaksie nie noodlottig nie.
Beide werkers herstel goed
Professor Stephen Powis, mediese direkteur vir die NHS in Engeland, het bevestig dat beide die werkers goed herstel. Reguleerders sê mense met ‘n geskiedenis van beduidende allergiese reaksies moet nie die Pfizer-/BioNTech Covid-inspuiting kry nie.
Die moniteringstelsel werk goed
Prof. Peter Openshaw, ’n kenner van Immunologie aan die Imperial College in Londen, het gesê: “Die feit dat ons so gou van hierdie twee allergiese reaksies weet en dat die reguleerder hierop reageer het om voorsorgmaatreëls uit te reik, toon dat hierdie moniteringstelsel goed werk.”



