Die vakansie is hier en nie almal van ons bly voortdurend aktief nie. Daar word op die bank gelê. Ons kyk meer TV Ons slaap meer. Ons beweeg minder.
Nie vir almal nie
Om eerlik te wees, oefen is nie vir almal nie. Nie almal geniet dit om hulle tekkies in die kas af te stof en aan te trek nie. Party mense kort ekstra motivering.
Oefening hoef nie moeilik en moeite te wees nie. Ons gedagtegang speel ’n groot rol in die dinge wat ons in die lewe aanpak. Om jouself vir ’n oefensessie voor te berei, is ’n psigiese proses. Indien jy vir jouself sê hoe sleg en moeilik die oefensessie gaan wees, gaan jy, nog voor jy jou tekkies aangetrek het, kop uittrek.
Bly aktief
Hier is maklike maniere om aktief te bly:
- Vat die viervoetkinders om die blok vir ’n stapsessie. Honde hou daarvan om te stap. Hulle moedig jou ook aan om ‘n vinnige pas vol te hou.
- Speel buite saam met jou kinders. Só leer jy ook jou kinders om van ‘n jong ouderdom af aktief te wees. Skop die bal of speel hulle gunstelingsport.
- Maak huis skoon. Volgens WebMD kan jy 170 kalorieë verbrand as jy vir ’n uur lank jou vloere stofsuig. As jy elke dag vir ’n uur die huis uitvee, kan jy tot 156 kalorieë per uur verbrand.
- Werk in die tuin. Tuinwerk laat jou nie net ontspan nie. Met so ’n taak verbrand jy energie sonder om daaraan te dink.
- Was jou motor. Roep jou kinders en was jou motor. Die dae is warm en daar is niks so lekker soos om met water te werk nie. WebMD berig jy kan 200 kalorieë verbrand deur jou motor vir 30 min. te was.
Volg FiND iT hier.



