Suid-Afrikaners oor hulle vakansieplanne ná Cyril se toespraak

Deel hierdie storie / Share this story

Suid-Afrikaners se vakansieplanne is heel omvergegooi na president Cyril Ramaphosa se aankondiging Maandagaand dat strande in Covid-19-brandpunte verbode sal wees tussen 16 Desember en 3 Januarie. Suid-Afrikaners wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, is egter nie soveel deur dié verandering in regulasies geraak nie.

Alhoewel meeste burgers sommer negatief voel oor die feestyd wat voorlê, voel ander dat hulle net die pad see toe gaan geniet en die beste daarvan gaan maak.

“Ek gaan vir ’n wegbreek. ’n Ruskansie. ’n Ander uitsig. Enigiets is nou beter as om net by die huis te wees. Ek gaan selfs net die lang pad Harties toe geniet, die vaal Karoo, die mooie Meiringspoort en die take-aways by Drie Susters,” sê Daleen Heunis. “Nee wat, geniet sal ek geniet. Ek wag al ’n jaar hiervoor en niemand se regulasies gaan dit vir my bederf nie!”

Johan O’Connell wonder, soos baie ander Suid-Afrikaners ook, oor die effektiwiteit van die nuwe inperkingsreëls. “Jy mag in die restaurant sit en drink en kuier, maar jy mag nie op ’n oop strand sit nie. Ek wil ook net weet hoekom die strandreëls tussen Natal en Garden Route nie dieselfde is nie.”

Sophia Stander sê sy gaan wel by die see vakansie hou, maar dat sy in elk geval nie op daardie besigste dae die strand sou besoek nie.

Joanne Christie Heyns sê sy is ook nie regtig ontsteld nie. “Bly by die huis en bly gesond.”

Anton Fourie voel weer dat ’n vakansie sonder die strand en die see dieselfde is as om ’n braai te hou sonder vleis. “Dit gaan maar ’n vervelige vakansie vir ons in Hartenbos wees.”

Hester van der Merwe het haar en haar gesin se vakansieplanne gekanselleer toe sy hoor dat hulle nie die strande sal kan besoek nie. “Dan bly ons eerder by die huis, spaar die petrolgeld en hou lekker hier by die huis Kersfees!”