Meer as 900 motors het onlangs vir die motor agter hulle by die deurryrestaurant, Dairy Queen, in Brainerd in Minnesota, betaal.
Die ketting van vriendelikheid het begin toe een motor besluit het om vir die motor agter hom se bestelling te betaal. Die motor agter hom het toe ook vir die motor agter hóm betaal en so ook 898 ander motors.
Volgens Today Show het die ketting vir drie dae aangehou.
“’n Man wat middagete bestel het, het gesê hy wil vir homself en ook vir die motor agter hom betaal. Die volgende motor het ook by die betaalvenster gekom en ek het gesê die motor voor haar het haar bestelling betaal. Ek het gevra of sy die motor agter haar se bestelling ook wil betaal en sonder enige vrae het sy gesê dis reg,” vertel Tina Jensen, algemene bestuurder by Dairy Queen.
Jensen sê aan TODAY Food dat sy al vantevore kettings soortgelyk aan dié een gesien het, maar dit het nog nooit met meer as 15 of 20 motors aangehou nie.
Jensen het die gebeurtenis op die restaurant se Facebook-blad gedeel en sosialemediagebruikers het dit op verskeie ander blaaie gedeel.
Toe die ketting uiteindelik tot ’n einde kom toe ’n motor nie vir die motor agter hom se bestelling kon betaal nie, het Jensen gesê was sy en haar kollegas opgewonde en vol energie oor die ervaring. “Dit was so lekker om mense se positiewe houdings en energie te sien!”



