KENIA. – Save Giraffes Now, ’n organisasie in Kenia, het onlangs ’n vlot gebou om ’n geïsoleerde kameelperd te red en haar weer met haar soort te herenig.
Save Giraffes Now werk al maande aan ’n projek om ’n groep geïsoleerde kameelperde wat op ’n krimpende eiland vasgevang is weens die stygende waters, te verskuif. ’n Kameelperd, met die naam Asiwa, was onlangs die eerste wat gered en met haar mede-kameelperde in ’n nabygeleë veilige hawe herenig is.
Om Asiwa en die ander kameelperde van die eiland terug na die vasteland te kry, is ’n spesiale vlot gebou om hulle veilig oor die krokodilbesmette waters te vervoer.
Die kameelperde wat op die eiland vasgekeer is, word almal bedreig, want dit is deel van die Rothschild se subspesie. Daar word beraam dat daar slegs ongeveer 1600 in die natuur oor is.



