Vermiste meisie toe heeltyd by vriend (30)

Deel hierdie storie / Share this story

SPRINGS – “Sy het haar selfoon op pad Silverton toe by die Uber se ruit uitgegooi sodat sy nie opgespoor kon word nie. Sy was die hele tyd by hom.”

Só sê Jan Germishuizen oor die 14-jarige meisie van Springs se verdwyning.

Sy is gisteraand opgespoor na sy op 30 November vermis geraak het. Sy het die dag van haar verdwyning vir haar ouma gesê sy wil gou na haar boetie toe gaan sodat hy haar met haar selfoon kan help. Haar selfoon is kort daarna afgeskakel en so het die soektog begin.

Verskeie organisasies en die polisie het vir meer as ’n week na die vermiste meisie gesoek en moontlike leidrade gevolg wat tot haar opsporing kon lei.

Germishuizen sê enige gerugte dat sy by Nigeriërs was, is onwaar.

Germishuizen se sussie het die meisie se stiefma, wat in Pretoria bly, gekontak omdat sy vermoed het dat sy saam met ’n vriend in Silverton is. “My sussie het haar stiefma gekontak en gevra om die adres van die man in die hande te kry. Sy het van die begin af vermoed dat sy by hom is,” sê Germishuizen.

“Ons het nou uitgevind dat sy met ’n Uber na die vriend toe gery het. Die vriend en sy meisie het intussen opgebreek en sy het toe by hom in die woonstel gebly. Hy wou glo polisie toe gaan, maar sy het hom gevra om dit nie te doen nie. Sy het vir hom gesê dat sy sal voorgee dat sy ontvoer is.”

Ná Germishuizen se sussie die vriend se adres in die hande gekry het, het hulle na sy woonstel in Silverton gegaan om na haar te gaan soek. “Hulle het haar daar gekry en toe die vriend later by sy woonstel kom, was dit vol polisielede.”

Oor of haar vriend se vriend van enigiets aangekla word, sê Germishuizen dat dit nog te vroeg is om te sê. “Die hof sal nou sy gang gaan, maar dit was nie ’n saak van ontvoering nie. Hy het haar nie kom haal nie, sy het na hom toe gegaan.”

“Sy is nou by die huis.”