Slapelose nagte vir Nikita se ma

SPRINGS – “Ek het nie meer geld om die beloning meer as R20 000 te maak nie. Besighede borg al die pamflette waarop ons print. Ek is so moeg vir die slapelose nagte.”

Ordette Lottering vertel van die afgelope week wat haar dogter, Nikita (14), vermis is. “Ek kry snags tussen 03:00 en 04:00 oproepe wat sê my kind is hier of my kind is daar. Wanneer ons daarheen ry, is sy dan natuurlik nie daar nie. Ek is nou al so moeg. Dis net slapelose nagte.”

Die polisie in Springs en die Pink Ladies-organisasie is tans op soek na Nikita sedert sy op 30 November vermis geraak het.

Nikita is ‘n gr. 8-leerling aan Hoërskool Hugenote in Springs. Sy het Maandag by haar peetma, of soos sy haar genoem het, haar ouma, gekuier.

Nikita se ouma het haar 18:15 probeer bel, maar haar selfoon was af en is sedertdien steeds nie weer aangeskakel nie.

“Sy het haar ouma 17:00 Maandagmiddag gevra of sy gou na haar boetie toe kan loop. Sy was daar en het weer na haar ouma teruggegaan. Toe sy 18:00 vra of sy gou weer na hom toe kan gaan, het haar ouma vir haar gesê nee. Hulle sou binnekort eet. Nikita het toe mooi gevra en gesê sy sal gou maak, sy wil net hê dat haar boetie haar met haar selfoon help. Haar ouma het ingestem en dis die laaste keer wat sy haar gesien het,” vertel Ordette.

Nikita het ’n swart denimbroek, wit hemp en rooi baadjie aangehad.

Skakel asseblief 065 257 2921 indien jy enige inligting het oor waar Nikita kan wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: