April 18, 2021

Dogtertjie se gesig reggemaak ná boerboel-byt

Foto's: Verskaf

TRICHARDT – “Die kleintjies het maar buite op die trappies gesit. Sy het ‘n pakkie tjips of iets in haar hand gehad en die hond het dit by haar probeer vat. Toe sy wegruk, het hy haar gegryp.”

Johan Steytler van Trichardt in Mpumalanga vertel hoe sy dogtertjie van amper drie jaar, Makayla, Saterdag deur ‘n boerboel gebyt is.

Steytler sê dit was ‘n partytjie en die jonger kinders het buite op die trappies gesit toe die insident plaasgevind het. “Ek was in die voorhuis en die res van die grootmense was maar in die kombuis besig om lekkergoed vir die kinders in pakkies te sit.”

“Toe ek hoor van die ongeluk, het ek dadelik na haar toe gehardloop. Ek het sommer ‘n spoegdoek gegryp en probeer om van die bloed te stop. My skoonseun-hulle het toe die ambulans gebel en sy is hospitaal toe geneem.”

Steytler sê hy het nie gemaklik gevoel met die hospitaal waarin Makayla opgeneem is nie, en het haar toe daar gaan haal. “My baas het haar toe die volgende oggend na die privaat hospitaal geneem en vir die casualties én haar medisyne betaal. Ek is verskriklik dankbaar daarvoor,” sê hy.

Dis toe Makayla na ‘n plastiese chirurg geneem is om na die skade te kyk, wat hulle die skok gekry het dat dit R40 000 sou kos vir die operasie om die merke reg te maak.

Steytler het sy dogter, Jo-Anne van Deventer, toe gevra om op Facebook vir donasies te vra om die R40 000 bymekaar te kan maak.

“Dis toe dat dokter Paul Pienaar my gebel het. Hy het vir my gesê hy sal haar gratis help en haar gesiggie mooi regmaak. Ons het haar gister Pretoria toe geneem en hy het haar neusie, ogie en die senuwees in haar gesig mooi reggemaak. Ons moet haar Maandag terugvat na hom dat hy die steke kan uithaal. Daar sal maar merkies op haar gesig wees, maar hy het ‘n baie goeie werk gedoen. Ons is hom dankbaar.”

“Ek wil graag vir Centurion Day Hospital, Riana Kroëse van Care 2B Kind, my dogter, Jo-Anne, my baas, Danie Roberts, en vir dokter Pienaar baie dankie sê vir hulle hulp.”

1 thought on “Dogtertjie se gesig reggemaak ná boerboel-byt

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: