April 21, 2021

Hermanus-reeksverkragter gevonnis

Foto: Unsplash

KAAPSTAD – Mlondolozi Ntulo is Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad lewenslank plus 385 jaar tronkstraf opgelê op 44 aanklagte, insluitend die verkragting van 15 slagoffers tussen 14 en 39 jaar oud, in Maart 2016.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie en die Valke het in 2016 ’n saak van reeksverkragting ondersoek. In daardie stadium was die verdagte nog onbekend en kon slagoffers nie ’n beskrywing van hom gee nie.

Ntulo het altyd ’n balaklawa of iets anders oor sy gesig gehad. Hy sou sy slagoffers van hulle selfone en geld beroof en hulle dan na ’n afgeleë plek in Zwelihle neem waar hy hulle aangerand en verkrag het.

Ntulo is op 25 Mei 2018 in hegtenis geneem na hy in verdagte omstandighede naby een van die tonele gevind is. Forensiese toetse kon later vasstel dat sy DNA hom aan al 15 sake verbind. Hy is van 44 klagte van onder meer verkragting, aanranding, ontvoering en diefstal aangekla.

Twee van sy slagoffers was onderskeidelik 14 en 15 jaar oud. Die ander slagoffers was almal tussen die ouderdomme van 19 en 39 jaar oud.

Ntulo het onlangs skuld op die klagtes erken en is Donderdag tot lewenslank plus 385 jaar tronkstraf gevonnis.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: