KWAZULU-NATAL – ’n Dief het ’n dag na hy ’n skootrekenaar uit ’n meenthuiskompleks gesteel het ’n jammersê-briefie geskryf en die skootrekenaar aan sy eienaar terugbesorg.
Netwerk24 berig Nikki Morris was Saterdagaand by vriende in dieselfde meenthuiskompleks in Scottburgh in KwaZulu-Natal toe daar by haar sussie se huis ingebreek is. Hulle het na die aandete na die huis teruggekeer en besef kontant, selfone en ’n rugsak met ’n skootrekenaar en hardeskywe in, is gesteel.
Morris kon na die inbraak nie slaap nie. Sy het Sondagoggend vroeg gaan stap en toe sy na die kompleks terugkeer, het sy ’n plastieksak wat by die hek ingedruk was, gesien.
Binne-in die plastieksak was alles wat in haar rugsak was. Toe sy die skootrekenaar oopmaak om te kyk of dit nog werk, het sy ’n briefie binne-in gekry wat lui: “Sorry plz, I wrong, 4give me”.
“Ek dink dit was bloot ’n dief met ’n gewete en niks onheilspellend nie. Dit was ’n groot verrassing om al my goed in ’n perfekte, werkende toestand terug te kry. Dis baie ongewoon, maar ek is baie dankbaar,” vertel Morris aan Netwerk24.



