KIMBERLEY. – Verbygangers was woedend vir ’n man wat na bewering ’n meisie op die hoek van Transvaalweg en Cecil Sussmanstraat in Kimberley wou verkrag.
’n Ooggetuie het aan FiND iT gesê die man het glo eers twee keer by KFC ‘kom moeilikheid maak’ waarna hy glo weggejaag is. Daarna het die man na die robot geloop. Daar word beweer hy wou toe ’n meisie in ’n skooluniform verkrag.
Poging tot verkragting
Kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van poging tot verkragting is geopen. Die verdagte (19) het glo probeer om ’n meisie wat op pad skool toe was, te verkrag. Mooi sê die verdagte is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.
Intussen is ’n video op Whatsapp te sien waarin die beweerde verkragter in die straat deur omstanders geskop en geslaan word. Die mense in die video skop en slaan die verdagte wat op die grond lê, waarna hulle omdraai en wegloop.



