ELLISRAS – Die 15-jarige Jandré Stanz is Dinsdagoggend by die skool dood verklaar toe hy net na hy met sy fiets by die skool aangekom het, inmekaargesak het.
Hoërskool Ellisras het in ’n verklaring gesê die skool se jaareindeksamens is opgeskort na Stanz se dood.
A.L. Joubert, die skoolhoof, het medelye met Stanz se ouers en vriende uitgespreek.
“Die Rassies se harte gaan uit na die ouers, familie en vriende van Jandré Stanz, ’n graad 9-leerling van ons skool, wat vanoggend skielik oorlede is nadat hy met sy fiets by die skool aangekom het. Die skool bedank elke lid van die personeel en vriende wat so gou by was om Jandré se ouers en ons leerders, veral sy goeie vriende, by te staan,” lui ’n brief van die skool.
Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.



