FOTO’S: Nóg twee vragmotors brand

GAUTENG. – Nog twee vragmotors is Dinsdagaand op die N12 tussen Etwatwa en Daveyton aan die brand gesteek. Die brandweer was tot vanoggend 07:30 op die toneel besig.
Geweld op die eienaars en werkers
Die president, Cyril Ramaphosa, het ook al sy ontevredenheid oor die voorvalle uitgespreek. Ramaphosa sê hy is baie bekommerd oor die impak van die geweld op die eienaars en werkers van die vragmotormaatskappye. Hy sê verder die geweld lei tot ekonomiese ontwrigting. In sy verklaring verwelkom hy dit dat drie verdagtes in verband met die kaping van ’n vragmotor in hegtenis geneem is.
Gewonde man langs die vragmotor
Gisteraand se voorval volg na meer as 20 vragmotors die afgelope tien dae aan die brand gesteek is. In Maandag se voorval is ’n vragmotorbestuurder dood en nog een is met ’n skietwond in die hospitaal opgeneem. Die polisie het ’n gewonde man langs die vragmotor gekry en ook die lyk van ’n man (45). Hy het skiet-en brandwonde opgedoen.
Ongeveer R1,75 miljoen se skade
Die Road Freight Association het in ’n brief aan Ramaphosa gewaarsku die aanvalle op vragmotors is niks anders as ’n oorlog op die Suid-Afrikaanse ekonomie nie.
In ’n afsonderlike voorval in Mpumalanga moes ’n vragmotorbestuurder en sy assistent ook vlug toe hulle rook en vlamme oral sien. Die skade aan die vragmotor is ongeveer R1,75 miljoen.
Volg FiND iT hier.