’n Sekere vlak van geraas is onvermydelik wanneer jy in sekere gedeeltes van ’n dorp of stad bly. Taxi’s, verkeer, konstruksiewerk en selfs jou buurman kan hiertoe bydra.
Bo en behalwe die feit dat die geluide van konstruksiewerk meer algemeen word, word eiendomme al kleiner en woon mense dus nader aan mekaar en is die geraas ook meer.
Daar is egter ’n punt waar geraasvlakke onaanvaarbaar raak en die lewe ongemaklik maak.
Hoe maak jy wanneer jou raserige bure té raserig raak?
Gaan praat eers mooi. Wanneer jy kwaad is oor die geraas, maak seker jy koel eers af voor jy besluit om aan jou buurman se voordeur te gaan klop. Hou in gedagte dat jy steeds langs jou buurman moet bly, so probeer enige onsmaaklikhede so ver moontlik vermy.
Hou boek van hoeveel keer jy oor die geraas kla. Bewyse van die kere wat jy wel met jou bure gepraat het, wanneer jy met hulle gepraat het en hoeveel geraas hulle gemaak het, kan baie belangrik raak wanneer jy miskien later besluit om verdere stappe te neem.
Probeer met jou bure se huurders praat as dit moontlik is.
Vul ’n amptelike klagtevorm in en lig jou agent in van die vorm.
Probeer om nie toe te laat dat jou raserige bure die spesiale feestyd saam met jou gesin beduiwel nie. Gaan stap om die blok, gaan besoek ’n parkie of probeer jou gesin besig hou wanneer die geraas te veel word.



