April 18, 2021

Optog in Naboomspruit verwag

NABOOMSPRUIT – ’n Boodskap sirkuleer op sosiale media waarin die gemeenskap in die Naboomspruit-omgewing gevra word om Woensdag die hofverrigtinge van die verdagtes in ’n plaasmoordsaak by te woon.

Die drie verdagtes wat na bewering op Alwyn van Zyl (79) en sy vrou, René, se plaas naby Mookgophong toegeslaan het, verskyn om 09:00 in die hof. Alwyn is tydens die aanval vermoor.

Die egpaar het gelê en slaap toe die aanvallers die plaashuis binnegekom het.

“Die verdagtes is al agt maande in aanhouding en artikel 342 kom nou in werking,” lui die boodskap. “Enige verhoorafwagtende is geregtig op ’n verhoor binne ses maande, anders kan hulle vrygelaat word. Die aanklag van diefstal en onwettige wapenbesit behoort suksesvol te wees, maar daar is groot kommer weens die feit dat die DNA-toetse nog nie beskikbaar is nie. Die moontlikheid bestaan dat hulle op grond daarvan vrygelaat gaan word.”

Alwyn was een van die stigterslede van die Naboomspruit Boerevereniging.

Daar was op 18 Augustus ook ’n optog teen plaasmoorde in Naboomspruit toe die drie verdagtes in die hof verskyn het en boere het met trekkers en waens aan die optog deelgeneem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: