Leerlinge wat baklei, toets positief vir dagga

Deel hierdie storie / Share this story

EDENVALE – Sewe leerlinge van Hoërskool Edenglen wat verlede week by ’n straatbakleiery in Edenvale betrokke was, is geskors hangende ’n dissiplinêre verhoor.

Dit volg na aanvanklike berigte dat 10 leerlinge by die geveg betrokke was. Volgens Panyaza Lesufi, LUR van die Gautengse onderwysdepartement, het die bakleiery as gevolg van ’n R25 uitgebreek.

Steve Mabona, woordvoerder vir die departement van onderwys in Gauteng, het gister gesê ses van dié leerlinge het positief vir dagga getoets.

“Daar is ook ’n mes in een van die geskorste leerlinge se besit gevind. Hy het dit glo vir beskerming by hom gehad,” sê Mabona.

’n Video van die bakleiery het groot opslae gemaak op sosiale media. In die video is dit duidelik hoe seuns deur ander ander groepe seuns geskop word terwyl hulle op die grond lê. Meisies staan ook en kyk.

Die leerlinge se verhoor sal Donderdag en Vrydag plaasvind. Die polisie ondersoek die saak.