April 18, 2021

Geweldsmisdaad in die NK plaas klem op gemeenskapsverantwoordelikheid

Foto: Unsplash

Die moord op die 80-jarige Hannetjie Kruger op Upington, sowel as beeldmateriaal op sosiale media wat wys hoe ‘n dame op Kuruman aangeval en beroof word, onderstreep die verantwoordelikheid van gemeenskappe om na hul eie veiligheid om te sien.

So sê Wynand Boshoff, VF Plus provinsiale leier in die Noord-Kaap.

Kruger en haar man, wat op ‘n plaas buite die dorp woon, het hul kinders uitgehelp omdat hulle met een van die kleinkinders vir mediese behandeling na Bloemfontein moes gaan. Hulle het in die dorp kom woon om die ander kinders te versorg en rond te karwei. Dit is juis toe Kruger nie by die skool uitgekom het nie, dat alarm gemaak is.

“In teenstelling met Upington is Kuruman bekend as ‘n misdaadbrandpunt in die Noord-Kaap. Daar is die dilemma dat die ontplooiing van die polisie volgens die dorp se permanente bevolking bereken word,” sê Boshoff.

“Bedags kom sowat tien keer die dorp se eie bevolking van 13 000 uit die landelike dele van die Ga-Segonyana-munisipaliteit waarin die dorp geleë is, en die naburige Joe Morolong-munisipaliteit na die dorp. Dit skep ‘n onpolisieerbare situasie. Die gemeenskap neem reeds sterk verantwoordelikheid vir veiligheid, maar kan nie voorbly nie.”

Die VF Plus wil gemeenskappe daaraan herinner dat alle besoekers aan hul huise en erwe sekere inligting kan bekom. Iemand wat misdaad beplan, kan maklik by ‘n tuindiensonderneming aansluit, of as tydelike werker ‘n huis en erf binnedring.

“Daarom is dit noodsaaklik om altyd paraat te wees en mooi te dink aan wie toegang tot ‘n mens se eiendom gegee word.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: