Brief dalk rede vir Zara (17) se selfdood

Foto: Pastoor Etienne van Heerden (Facebook)

PAARL – “Die emosie by die skool was vanoggend so tasbaar. Dit was verskriklik om te sien hoe leerlinge en selfs ouers staan en huil. Dié foto van die blomme is nie eers helfte van al die blomme wat die gemeenskap daar kom neersit het nie.”

So sê pastoor Etienne van Heerden van die AGS Paarl Protea-gemeente oor Maandagoggend by die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl.

Die skoolgemeenskap is in rou gedompel oor Zara Malherbe en Jade Gouws se dood. Die leerlinge van die skool moes vanoggend na die skool terugkeer na die dubbele tragedie wat hulle verlede week getref het.

Oor die saalbyeenkoms sê Van Heerden: “Dit was ’n baie emosionele, maar ook bemoedigende boodskap. Ek het vanoggend net weereens gesien hoe na die gemeenskap hier aan mekaar is.”

Zara en Jade was beide graad 11-leerlinge aan die Hoër Meisieskool La Rochelle. Hulle het albei hulle eie lewens geneem.

Jade is dood by haar huis gevind en Zara is by ’n hospitaal dood na sy ’n selftoegediende wond opgedoen het. Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, word die besonderhede rondom die sake nog ondersoek.

Daar doen intussen gerugte die rondte dat die graad 11-leerlinge aan die skool ’n brief aan hierdie jaar se matrikulante moes skryf waarin hulle vertel waar hulle hulself in volgende jaar sien en dat Zara se brief uitgelek het. Haar brief het volgens die gerugte baie persoonlike details bevat.

Van Heerden, wie se dogter ’n leerling aan die Laerskool La Rochelle is, sê hy is bewus van dié gerugte. “Ek kan dit nie bevestig nie, maar ek kan my indink dat sy miskien vernederd gevoel het,” sê hy. “Wat ’n mens wel in ag kan neem, is dat iemand wat hulself in so ’n situasie bevind, nie noodwendig selfdood kies net oor die een geïsoleerde insident nie. Dit kan dalk wees oor ’n geskiedenis van emosionele uitdagings. So iemand het dalk net nie die gereedskap om die spesifieke insident te hanteer nie en kies daarom selfdood.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *