SUID-AFRIKA. – Van die mees gesogte wyne in Suid-Afrika gaan op 20 & 21 November op veiling aanlyn. Baie van dié wyne is Veritas-wenners.
Dié wynveiling word in samewerking met Care 4 Kings gehou. Die Care 4 Kings-inisiatief is verlede maand deur Braam van Straaten, voormalige Springbok-rugbyspeler, begin nadat die Southern Kings gelikwideer is. Dit het beteken die spelers en werknemers het geen inkomste of heenkome nie. Care 4 Kings onderneem inisiatiewe om fondse in te samel om dié spelers en werknemers te help.
Kelders span saam
Kelders in Suid-Afrika het saamgespan om wyne beskikbaar te stel om op dié veiling opgeveil te word. Van die mees gesogte wyne, waarvan baie Veritas-toekennings ontvang het, is deel van die pakkie.
Wyne uit die boonste rakke
Van Straaten sê dit is ‘n groot voorreg om wyne van so ‘n kaliber op die veiling te hê. Van die wyne sluit in wyne van KWV, Beyerskloof, Brink Family Wines, Kaapzicht, Blake Family Wines, Flagstone, La Motte, Nederburg, Alto, Villiera, Darling Cellars, Badsberg en vele meer.
Veritas prestigeryke kompetisie
Die Veritas is die oudste en mees prestigeryke kompetisie van sy soort in Suid-Afrika, waar van die wêreld se mees ervare proeërs die inskrywings jaarliks evalueer.
Wyne deur Springbok-spelers geteken
Sommige van die wyne gaan ook deur Springbok-rugbyspelers en voormalige Springbok-rugbyspelers geteken word. Van Straaten sê hyself sal van die wyne teken, Robbie Kempson, Albert van den Berg en André Markgraaff het ook reeds van die wyne geteken.
“Kopers sal die aanlynveiling moet dophou vir die getekende wynbottels. Ons sal volgende week die veiling oopstel vir besigtiging, maar intussen kan jy hier gaan registreer,” sê van Straaten
Die wynveiling vind plaas kort nadat die toep waar jy spesiale wyne wat Veritas-toekennings ontvang het, kan bestel, bekendgestel is. Laai die toep hier af.
Vir meer inligting oor die veiling, stuur ‘n e-pos aan [email protected].
Van die wyne sluit in:







