Marnu (6) op soek na die perfekte skenker

Deel hierdie storie / Share this story

Die 6-jarige Marnu Prinsloo was soos enige ander normale seuntjie. Hy was mal daaroor om buite te speel, skool toe te gaan en tyd saam met sy familie deur te bring. Tot hy in Junie 2017 met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is.

“Ons harte was stukkend. Dit was die moeilikste dag van ons lewens. Ons het nooit gedink dit sou met ons gebeur nie,” sê Annezell Prinsloo, Marnu se ma.

Annezell het aanvanklik opgelet haar seuntjie is baie bleek, het knoppe oral oor sy lyfie en ervaar koors. Toe hy van maagkrampe en moegheid begin kla, het sy geweet sy moet hom by ‘n dokter kry sodat hulle hom kan ondersoek.

Akute limfoblastiese leukemie (ALL) is ‘n tipe kanker wat in die bloed en die beenmurg voorkom. Dis die algemeenste vorm van kanker by kinders, maar kan ook by volwassenes voorkom.

Marnu het in Augustus vanjaar sy behandeling voltooi en sy familie was saam met hom bly, tot hy later in die maand ‘n terugslag ervaar het.

Marnu se sussie se genetika was ongelukkig nie identies aan syne nie en dokters kon nie haar stamselle gebruik om vir Marnu ‘n oorplanting te gee nie. The Sunflower Fund, ‘n skenkerwerwingsentrum en stamselregister, skep bewustheid oor bloedkanker en die belangrikheid van donasies vir stamselle en het besluit om Marnu se storie aan die publiek bekend te maak.

As jy tussen die ouderdom van 18 en 55 jaar is, ‘n BMI-telling van minder as 40 het, is jy moontlik die perfekte skenker. Vir meer inligting of om te registreer, klik hier.