NOCCI beplan om Sol-munisipaliteit hof toe te sleep

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – NOCCI Kimberley het onlangs besluit om die Sol Plaatje-munisipaliteit vir ‘swak dienslewering, hoë elektrisiteitstariewe, watervermorsing en die absolute walglike toestand van die stad’ hof toe te sleep.

Sharon Steyn, hoof uitvoerende beampte van NOCCI, sê hulle is nie van plan om die munisipaliteit hierdie keer te laat gaan nie. “Ons weet nog nie presies hoe nie, maar ons gaan beslis iets omtrent hierdie situasie waarin die Kimberliete woon, doen.”

In ‘n boodskap wat Steyn uitgestuur het, verduidelik sy dat geen inwoner of besigheid in die huidige omstandighede kan funksioneer nie. “Besighede en belastingbetalers betaal almal buitensporige bedrae as dit kom by belasting, water en elektrisiteit. En dit terwyl die munisipaliteit geen verantwoordelikheid neem of geen planne beraam om dinge te verbeter nie.”

NOCCI het, volgens Steyn, alle moontlikhede om hierdie probleme op te los, bespreek. Hulle het besluit om regsstappe teen die munisipaliteit te neem in ‘n poging om die probleme op te los. Steyn sê NOCCI wag nog vir terugvoer vanaf prokureurs en sekere informasie, maar sodra hulle dit het, kan hulle die fondse begin bymekaarmaak. “Die trustfonds is reeds oopgemaak. Ons wag net vir bevestiging.”

“NOCCI het egter net die befondsing vir die litigasieproses nodig. Daar is regsprosesse wat gevolg moet word en aansoeke wat gedoen moet word. Alles stappe wat nie sonder die nodige befondsing kan voortgaan nie.”

Steyn sê dat sou NOCCI nie die nodige befondsing deur skenkings van die gemeenskap bymekaar kon maak nie, daar wel lander opsies is om met die proses te kan voortgaan.