‘Paper jam’ toe eintlik Kaapse kobra

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Dawie Griesel van Kimberley Snake Rescue het Maandag ‘n oproep ontvang om ‘n slang wat in ‘n drukker by die Mental Health-hospitaal in Kimberley was, te gaan verwyder.

Daar was oorspronklik gedink daar is dalk fout met die drukker, maar hulle kon later vasstel dis toe net ‘n Kaapse kobra…

“Met ons aankoms daar was hy nog in die printer en die mense het hom dopgehou. Ons kon hom veilig verwyder en het hom 15 km buite die dorp vrygelaat,” sê Griesel.

Volgens Griesel is slange redelik hardnekkig en gaan dinge soos diesel, paraffien of knoffelplante hulle nie weghou by jou huis nie. Skoon erwe kan egter die kanse verminder vir ’n slang om jou huis te kom besoek. Raak dus ontslae van goed soos bourommel wat om jou huis lê.

Kimberley Snake Rescue is opgeleide slangvangers en werk saam met natuurbewaring. Hulle het ’n permit om die slange wat hulle by inwoners se huise vang te hanteer en te vervoer. Hulle het ook die spesiale toerusting wat spesiaal ontwerp is om te voorkom dat die slange nie gedurende die vangery seerkry nie.

Griesel verseker ons dat die slange op ’n veilige plek 20 km weg van enige residensiële area of dorp vrygelaat word. Die koördinate van die slang se vrylating word ook vir Natuurbewaring gestuur om so tred te hou met waar die slange is.

Indien jy by jou huis of werk ook met ‘n onwelkome gas sukkel, skakel vir Griesel by 084 240 6353.