“Hierdie mamma is in trane. Chardoné spring hier op en af. Sy is so bly dat almal haar gehelp het om die geld in te samel om haar neusie reg te kry.”
Die 12-jarige Chardoné van Greunen en haar familie is buite hulself van blydskap na hulle binne ’n week die R13 000 wat hulle vir Chardoné se operasie benodig, kon insamel.
Jacoelien Krause, Chardoné se ma, sê hulle is ongelooflik dankbaar. “Ons het werklik gedink die operasie sou net uitgestel word tot dit later afgestel sou word. Ons het nié die reaksie verwag wat ons gekry het nie.”
Chardoné is vir agt jaar lank verkeerd gediagnoseer. Haar neusie het vandat sy vier jaar oud was, gebloei en dokters kon nooit agterkom wat die bloeding veroorsaak nie. Sy is uiteindelik vroeër vanjaar na ’n privaat dokter, wat byna onmiddellik vasgestel het dat daar iets in haar neus vassit. Lees meer hier.
Touch of Helping Grace, ’n organisasie wat minderbevoorregtes help om mediese onkostes vir operasies ensovoorts in te samel, het besluit om Chardoné ook te help.
Dié organisasie het teen Woensdagaand R5 800 ingesamel en Chris van FinFix het vandag die res van die bedrag bygedra.
Laerskool Krugerpark, die skool waarin Chardoné is, het ook ’n bedrag van R8 000 aan die gesin beskikbaar gestel vir enige petrol, medikasie of ander onkostes.
“Ons is regtig so dankbaar vir almal se hulp,” sê Jacoelien bly.



