‘Dis ‘n vreeslike gevoel,’ vertel boervrou ná brande

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – “Ek moes ’n skaapooitjie se keel afsny omdat sy te veel gebrand het en ons nie wou hê sy moes ly nie. Ek het op ’n bokooitjie ook afgekom wat lelik gebrand het en toe net gaan lê het om dood te gaan. En om so in die swart veld te staan… Dis ’n vreeslike gevoel.”

Nelda Lötter (53), ’n Kimberliet, sê die veldbrande wat verlede week Maandag op haar ouers se plaas, Schietpanskop, uitgebreek het, het 1 001 hektaar verwoes.

Foto: Verskaf

Lötter, wat met gemsbokke, boerbokke, springbokke, beeste en skape boer, se ouers het die plaas in 2000 gekoop.

“Die brand het Maandagmiddag uitgebreek. Die brand was aanvanklik tussen Winsorton en Warrenton en het om ongeveer 15:00 Maandagmiddag oor die pad gespring tot by ons.”

Lötter vertel hulle het ongeveer 65% van hulle weiveld verloor. “Omtrent 30 gemsbokke, 20 springbokke en 10 boerbokke het in die vuur doodgebrand. Gelukkig het ons huis of motors nie afgebrand nie. Daar is van die boere wat álles verloor het. My buurman het 5 000 hektaar verloor.”

“Hier was soveel van die omliggende boere en selfs mense vanuit Boshof wat kom help het. Mense van Working on Fire het met water en vuurvegters hier aangekom en kom help blus. Ek is so dankbaar.”

Lötter sê sedert die brande is sy al met kospakkies vir die werknemers, groente en voer vir die skape, bokke, beeste en wild gehelp. “Die skenkings word op ’n sekere punt in die omgewing afgelaai en dan word dit na die verskillende punte versprei.

“Ek wens ek kon vir elke liewe persoon wat kom help het, persoonlik dankie sê, maar daar was soveel dat dit nie moontlik is nie.”

Foto: Verskaf