OOS-KAAP. – Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ’n vragmotor wat drank vervoer gekaap het.
Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is die vragmotor met drank ter waarde van R200 000 op die N2 deur vier mans in ’n voertuig van die pad afgedruk.
Die verdagtes was gewapen
Naidu sê drie van die verdagtes was gewapen en het die vragmotorbestuurder gedwing om af te trek. Daarna is die bestuurder en sy passasier in die agterste sitplek ingedwing.
Polisiehelikopters en polisievoertuie
Die opsporingstelsel van die vragmotor het vir die polisie aangedui waarheen die vragmotor ry. Terwyl die verdagtes besig was om drank langs die pad af te laai, het polisiehelikopters en polisievoertuie aangekom. Die verdagtes het dadelik in verskillende rigtings begin hardloop.
Twee is gevang en in hegtenis geneem. Hulle sal later in die hof verskyn.



