Na die voorsorgmaatreëls wat deur die dapartement van basiese onderwys uitgereik is, kan matrieks met ‘n koors by ’n eksamenlokaal weggewys word.
Die voorsorgmaatreël sê indien ’n leerling drie keer in ’n halfuur ’n koors van hoër as 38°C meet, moet die ouers die kind kom haal. Die leerling moet ook ’n Covid-19-toets ondergaan. Dit beteken die leerling sal eers volgende jaar Junie die betrokke vraestel kan skryf.
Leerlinge moet ook ’n uur en ’n half voor hulle begin skryf, aanmeld.
Basil Manuel, uitvoerendehoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê hy is bekommerd oor digitale koorsmeters wat dalk foutiewe lesings kan gee. Hy sê leelinge kan ook dalk asimptomaties wees, wat tot uitbreking in skole kan lei.
Indien eksamenlokale weens uitbrekings sou sluit, het die department klaar noodplanne gemaak sodat leerlinge by ander sentrums kan skryf. Leerlinge word deurlopend aangeraai om gesond te bly en nie na partyjies te gaan waar hulle moontlik Covid-19 kan opdoen nie.



