FLORIDAPARK. – ’n Ma (78) en ’n dogter (53) se liggame is met verskeie steekwonde in ’n kothuis hier gevind.
Daar word beweer ’n vriendin van die ma het bekommerd begin raak toe hulle niks van haar op WhatsApp hoor nie, waarna sy glo gaan ondersoek instel het. Dit volg nadat sy elke oggend vroeg reeds boodskappe op groepe na haar vriendinne gestuur het.
Geslagsgeweld- en vrouemoordsak
Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê die ondersoek is na die Gautengse provinsiale ondersoekeenheid verwys en word ondersoek in ooreenstemming met die SAPD se verbintenis om alle geslagsgeweld- en vrouemoordsake te prioritiseer.
In hierdie stadium is dit nog nie duidelik presies wanneer hulle vermoor is nie en of daar enigiets uit die huis vermis word nie. Die motief vir die moord is nog nie vasgestel nie.



