Boere bedank gemeenskap uit hul harte

Deel hierdie storie / Share this story

Die boere in die Boshof/Kimberley-omgewing en spesifiek die eienaars van die plase op die Samaria-grondpad, wil graag uit hulle harte dankie sê vir die Kimberliete wat verlede week saamgewerk het toe die brande verwoesting op die plase gesaai het.

Een van die boere, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê hy wil graag namens al die boere aan die gemeenskap dankie sê. “Werklik dankie aan al die Kimberliete wat in hierdie moeilike tyd hulle harte en beursies oopgemaak het om ons en ons werkers te ondersteun en te help waar hulle kan,” sê hy. “Dankie vir al die vragte kos, water, koue verversings en noodhulpvoorraad wat hier by ons afgelaai is. Dit het ‘n reuse verskil gemaak en daarsonder sou die boere en vuurslaners nie die krag gehad het om die brand te keer nie.

“Daar is soveel van ons boere wat so dankbaar is vir die hulp, maar ons weet dit gaan onmoontlik wees om almal op te spoor en persoonlik te bedank – ons wil graag hê die mense moet weet hoeveel ons dit waardeer.”

Die brande het verlede week uitgebreek en duisende hektaar het in die proses afgebrand.

Boere het van hulle vee en infrastruktuur ook verloor.