Warrenton smeek vir water

Deel hierdie storie / Share this story

WARRENTON. – Die inwoners van Warrrenvale, Ikotseng en die stasiegebied smeek die munisipaliteit vir hulp nadat sekere gebiede al drie maande sonder water is.

Plekke permanent sonder water

“Ons kan dit nie net so los nie. Ek het ‘n ma van van 80 jaar oud. Sy sukkel vreeslik om haarself in ‘n klein kommetjie te was,” sê Rentia van Rensburg, ‘n moedelose inwoner van hier.

Volgens Van Rensburg gaan die water vir die afgelope drie maande aan en af terwyl ander plekke permanent sonder water is. Sy sê wanneer daar aan die munisipaliteit gevra word waarom die water steeds af is, is hulle antwoorde altyd dieselfde – ou infrastrukture, die mense betaal nie hulle water, elektrisiteit en erfbelasting nie.

Waarvoor betaal ons dan?

“Hierdie is onregverdig teenoor die mense wat wel hul munisipale rekeninge betaal. Nie almal se rekeninge is agter nie. Waarvoor betaal ons dan? Ons ontvang tog nie nou dienste nie?” sê Van Rensburg.

Raymond Porter, ondervoorsitter van AfriForum, sê die munisipaliteit kan die situasie verbeter deur die pype wat lek, reg te maak. “Die infrastrukture is baie oud en verbrokkel. Hierdie is nie ‘n probleem wat net vinnig opgelos gaan word nie. Die situasie kom al jare aan. Daar is ook al optogte gehou waar ‘n memorandum by die premier afgegee is,” sê Porter.

Elektrisiteit gaan afgesit word

Raymond sê Warrenton was ook onlangs op SABC waar hulle die infrastrukture gewys het. Die burgemeester het ook ‘n toespraak gelewer, maar hy het dieselfde redes as bo gesien aan die gemeenskap voorgelê waarom hulle nie water het nie.

“Die gemeenskap was ook al gewaarsku dat die elektrisiteit afgesit gaan word.”

Gemeenskap staan en help mekaar

“Die gemeenskap staan en help mekaar. Ek ry water vir van my werknemers aan. ‘n Ander gemeenskapslid ry groot hoeveelhede water met sy vragmotor aan. Op sy eie onkostes.”

Die inwoners wat wel boorgate het, raak moedeloos omdat die water in die boorgate begin opdroog. Die hele gemeenskap gaan nie uit ‘n paar lede se boorgate kan lewe nie

FiND iT het navraag by premier Zamani Saul gedoen.