Gevangene wat vroeër uit tronk ontsnap, weer gevang

Deel hierdie storie / Share this story

OOS-LONDEN – Lundi Mzimkhulu (33), wat op 14 Augustus vanjaar vanuit die Sada-tronk in Whittlesea, Oos-Londen, ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

Mzimkhulu is Dinsdagaand weer in hegtenis geneem na hy in Dutywa in die besit van ‘n gesteelde motor en ‘n onwettige 9 mm-pistool gekry is.

Lwando Zenzile, woordvoerder vir die Valke, sê Mzimkhulu het, toe hy in Augustus ontsnap het, die korrektiewe dienste-offisiere glo uit sy pad gestamp, ‘n vuurwapen op hulle gerig en hulle by ‘n kantoor ingeboender waar hy hulle deursoek het. “Mzimkhulu het saam met ander gevangenes, onder andere Siyabulela Mtshobi en Sibusiso Nzuzo, die offisiere se motorsleutels, hulle baadjies en hoede gegryp en by die hek uitgehardloop,” sê Zenzile.

Mzimkhulu het vantevore ook uit die gevangenis ontsnap toe hy in Maart vanjaar van die Whittlesea-hof op pad na die selle was. In dié geval het hy en twee ander gevangenes die polisiemanne oorweldig, hulle vuurwapens afgevat en die polisievangwa gebruik om weg te kom. Die wa is toe later verlate in Dongwe gevind.

Hy sal na verwagting vandag in die Dutywa-landdroshof verskyn.