PORT-ELIZABETH. – ’n Vrou is dood nadat sy deur haar pitbull terrier, Dexter, aangeval is.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die vrou se man was besig om haar by die motor in te help toe hulle vier-jarige pitbull terrier die vrou aanval. Die man het glo probeer om die hond van sy vrou af te kry, maar was nie suksesvol nie. Hy het die bure om hulp geroep waarna hulle dit reggekry het om die hond aan ’n boom vas te maak.
Aan haar wonde beswyk
Volgens Janse van Vuuren het die vrou aan haar wonde beswyk en is op die toneel dood verklaar.
Die hond is deur Animal Anti-Cruelty League van die toneel verwyder. Dexter sal binnekort van kant gemaak word.
Niemand weet glo wat voor die toneel gebeur het of wat aanleiding tot die voorval gegee het nie.



