Telkom se nasionale netballigakampioenskappe het op die openingsdag opwindende kragmetings opgelewer.
Die verdedigende kampioen, die Gauteng Jaguars, was deeglik beproef deur die Noordwes Flames in die eerste wedstryd van die dag.
Die Jaguars moes diep delf om die wedstryd met 34 teen 31 te beklink.
Die Vrystaat Crinums het hul wedstryd teen die KZN Kingdom Stars met 40 teen 30 gewen.
Die telling is nie ‘n getroue weergawe van die stryd op die baan nie.
Alhoewel die tuisspan uit die staanspoor voorgeloop het, het die Stars nooit gaan lê nie.
In die kragmeting in afdeling B was die Oos-Kaap Aloes en Wes-Kaap ook in ‘n spannende tweestryd gewikkel.
Die Oos-Kapenaars het met 34-29 geseëvier.
Die Noord-Kaap Diamonds maak môre hul eerste verskyning in vanjaar se toernooi.
Hulle pak om 10:00 die Mpumalanga Sunbirds in hul afdeling B-kragmeting.
In die eerste wedstryd van die dag speel die Vrystaat Crinums en die Golden Fireballs om 9:00.
Die dag se ander bepalings is:
12:00 Southern Stings teen Noord-Wes Flames
15:00 KZN Kingdom Stars teen Gauteng Jaguars
17:00 Limpopo Baobabs teen Oos-Kaap Aloes.



