September 24, 2021

Tweede kans na die Southern Kings

Erich Cronje (23) is een van die gelukkige rugbyspelers wat by ‘n ander unie, die Pumas, ‘n kontrak gekry het ná sy loopbaan by die Southern Kings geëindig het.

Cronje en Elandré Diemieniet (22), sy meisie van die afgelope sewe jaar, trek nou van Port Elizabeth na Nelspruit, waar hy vir die Pumas gaan begin speel.

Rugbyloopbaan kan skielik tot stilstand kom

“Dit was sleg toe hulle daardie dag vir ons sê daar is nie meer geld nie en ons almal word gelikwideer. As dit my een ding laat besef het, is dit dat my rugbyloopbaan baie skielik tot stilstand kan kom en dat ek op iets anders as net rugby sal moet begin fokus.”

Hoekom Cronjé rugby gekies het

Cronjé sê laggend dat hy al vandat hy uit sy ma se maag gekom het, rugby speel. “Ek was seker in graad een toe ek begin rugby speel het. Ek het as kind altyd na ouens soos Bryan Habana opgekyk en hom bewonder oor hy altyd soveel aan die jonger generasie teruggegee het.

“Ek het gekies om rugby te speel omdat ek ‘n great talent daarvoor gekry het. Dis ook ‘n wonderlike geleentheid vir my as Christen om vir jonger kinders te wys dat jy net hard moet werk en die Here dan die res sal doen. Dis steeds my droom om die jongspan te inspireer,” vertel hy.

Nuwe loopbaan by die Pumas

“Gelukkig kon ek by die Pumas inkom. Toe ons die nuus kry, moes ek my spaargeld begin gebruik net vir ons om op ons voete te bly.”

Diemieniet het sopas klaar studeer en al is dit vir haar sleg om nou dat sy moet begin werk, so rond te trek, ondersteun sy hom steeds. “Sy staan nog heeltyd by my.”

Planne vir die toekoms

Cronjé sê sy planne vir die toekoms is om te studeer. Hy wil steeds merendeels op rugby fokus, maar wil net iets hê om op terug te val, sou dit nodig wees. Hy wil egter steeds op rugby fokus.

Care 4 Kings – ondersteun die spelers van môre

Care 4 Kings is gestig en Braam van Straaten, voormalige afrigter van die Kings-rugbyspan, doen ’n beroep op alle professionele sportlui om items te skenk vir ’n aanlynveiling wat op 16 en 17 Oktober sal plaasvind. “Dit is wonderlik om te sien dat ouens soos AJ Venter video’s doen oor wat hy kan gee. Jy kan dit nou aanlyn koop. Dis ’n geleentheid wat nie voorheen beskikbaar was nie en die bonus is, so help jy die toekoms van môre. Jy help ouens wat groot drome het. Groot harte en passie vir rugby.”

Van Straaten, voormalige Springbok-rugbyspeler, skenk ook sy eie Springbok-baadjie, wat Vrydag en Saterdag op die veiling beskikbaar gaan wees.

Registreer nou vir die aanlynveiling by www.care4kings.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *