Solidariteit het sy kommentaar op die konsepregulasies wat die film- en publikasieraad (FPB) onlangs vir openbare insette gepubliseer het, ingedien.
In sy kommentaar takel Solidariteit die drakoniese inperkings op onder meer basiese regte soos vryheid van spraak en uitdrukking wat deur die regulasies voorgeskryf word.
Werner Human, adjunkbestuurshoof: strategie, regsake en navorsing, sal alle aanlyn verspreiders van inligting by die FPB moet registreer en alle inhoud sal eers vir klassifikasie ingedien moet word alvorens dit gepubliseer mag word.
“Publikasie” sluit in enige drukvorm en aanlynplatform en is van toepassing op enige geskrewe of beeldmateriaal. Dit sluit selfs die publikasie van speletjies in. Buitensporige fooie word dan gehef vir hierdie sogenaamde reg om te mag publiseer.
“Hierdie ontwerpregulasies is niks anders as ʼn nuwe vorm van sensuur wat die regering wil implementeer nie. Die regering is duidelik besig om regte in te perk en beoog om dít wat die wêreld en mense sien en lees te reguleer en te beheer. Dit is absoluut belaglik om te dink dat mense en ondernemings voortaan sal moet toestemming vra en ʼn fooi moet betaal voordat hulle enige iets in ʼn koerant of selfs op hul sosiale media mag publiseer,” sê Human.
Die implikasies van hierdie regulasies strek egter veel wyer as internetdiensverkaffers of maatskappye en raak veral ook die kunste en kommunikasiebedrywe.
Solidariteit het sy kommer uitgespreek dat hierdie regulasies nie net vryheid van spraak sal inperk nie, maar dat dit ook enige vorm van kommunikasie wat vir publikasie geskep word, sal dikteer.
“Ons kan nie toelaat dat die staat absolute sensuur op kreatiwiteit toepas nie. Mense in kommunikasie-, ontwerp- of skryfberoepe gebruik hul roepingsgawes om hul talente uit te leef. Die staat mag hulle nie van hierdie reg ontneem deur hul ontwerpe en woorde in te perk nie. Hierdie regulasies gaan net nog ’n manier wees waarop die staat aan ons wil dikteer wat om te sê, doen en ontwerp. Ons sal nie toelaat dat ons lede in hul beroepe geboelie word nie,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Gilde vir Kommunikasie en Bemarking.
Volgens Hennie Bierman, hoof van die Gildes by Solidariteit, moet die regering dit in werklikheid makliker maak vir onder andere kunstenaars om hul werk te publiseer, en enige inperking op vryheid van uitdrukking deur die staat en sy ideologie moet ten sterkste teengestaan word. “Met hierdie regulasies is die regering besig om kunstenaars se lewensaar af te sny. Teenstand en selfs opstand deur kunstenaars is nodig waar sensuur ter sprake is,” sluit Bierman af.
Klik hier om die kommentaar te lees.



