Ses gewapende aanvallers het die naweek kinders by ’n kunsskool in Khayelitsha aangeval en beroof. Ongeveer 100 mense is Saterdagmiddag as gyselaars aangehou en van hulle besittings beroof.
Anroux Marais, LUR van sport en kultuur in die Wes-Kaap, sê die aanval is skokkend. “Dis ’n jammerte dat programme soos die KASI RC deur gewetenlose misdadigers beroof is,” sê sy.
Mandisi Sindo, die eienaar van Kasi RC: Shack Art School & Theatre, het op sosiale media gesê dat ses mans by die teater ingestorm het en alles gesteel het. Mandisi het ook gesê een van die kinders wat doof is, moes na ’n hospitaal geneem word vir hartversaking. “Hier is geen meer veiligheid in Khayelitsha nie. My hart bloei vir die agt- tot 25-jarige leerlinge wat hierdie traumatiese gebeurtenis moes ervaar.”




