Het jy al gehoor van Pixie Pink – Victim Advocate? Sy is ’n vrou wat daagliks ’n verskil in slagoffers van kindermishandeling se lewens maak. Hier gesels sy met FiND iT oor wie sy is, hoe alles begin het en hoe jy kindermishandeling kan aanmeld en ’n verskil kan maak.
Sy het die nood raakgesien
Omdat sy ongeveer 32 jaar lank direk in die misdaadbedryf verdiep was, het sy gesien dat misdaadbestryding is nie genoeg om vroue en kinders in nood te help nie. “Te dikwels was dit te min, te laat en is die skade aangerig. Geslagsgeweld en kindermishandeling is ongelukkig misdade wat nie deur middel van konvensionele misdaadvoorkomingsoperasies voorkom kan word nie.”
Sy het besluit om ’n persona te skep om ’n stem vir stemloses te wees en ’n praktiese diens te kan lewer en Pixie Pink is dus gebore. ’n Hardkoppige, luide, dapper, maar beslis ’n omgeepersoon.
Sy het ’n Facebook-platform in Februarie 2019 geskep en dit het vinnig gegroei. Sy het ’n veilige ruimte vir vroue geskep om hul stories te deel, en sy het na slagoffers begin uitreik om hulle te lei, na hul probleme te luister, hulle te help met die voltooiing van die aansoeke en hulle deur die proses te help.
Sy het die vrymoedige besluit geneem om te bedank om ’n slagofferadvokaat en aktivis te word teen vroue- en kindermishandeling. Sy het ook besef dat die saak te groot was om self te kan hanteer en het ’n netwerk van professionele persone, prokureurs, beraders, lewensafrigters, gespesialiseerde SAPD-eenhede, die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, kinderhuise, asook skuilings vir mishandelde vroue en kinders.
Wie meld gewoonlik kindermishandeling aan?
“Dit is gewoonlik bekommerde oumas, bure, mense op straat en onderwysers.”
Is dit jou plig as lid van die gemeenskap op kindermishandeling aan te meld?
“Dit is absoluut jou plig as lid van die gemeenskap om kindermishandeling aan te meld. Dit is tot so in die wetboeke geskryf. Jy kan anoniem bly. Niemand wil betrokke raak nie, want hulle is bang om die bad guy te wees. As ons almal betrokke raak wanneer dit nodig is, kan ons ’n groot verskil maak.”
Hoe weet jy as ’n kind mishandel of verwaarloos word?
- Wanner ’n kind vuil is
- Wanneer ’n kind sleg ruik (gewoonlik soos urine)
- Wanneer ’n kind gereeld honger is
- Wanneer die kind nie gereeld skool toe gaan nie
- Wanneer daar tekens van fisiese mishandeling is
- Wanneer die kind heeltyd moeg is
- Vlooie en luise kan ook soms ’n teken wees
- Wanneer die ouers dwelms gebruik
Waar meld mens kindermishandeling aan?
- Departement Sosiale Ontwikkeling
- Suid-Afrikaanse Vrouefederasie
- NG-kerk welsyn
- Polisie
Wat word van die kinders wat weggeneem word?
“Ons vat nie kinders af weens armoede nie, ons gee eerder kos en bied hulp aan waar ons kan. Die omstandighede moet egter haglik wees of ouers wat nie na hulle kinders kan kyk nie as gevolg van ’n dwelmverslawing.”
“Ons probeer altyd eers naaste familie opspoor om vir pleegsorg aansoek te doen. Dit is dan nie so ontwrigtend vir die kinders nie en daar is ook beperkte plek in staatsinstansies.”
“Indien daar nie familie is wat pleegsorg kan aanvaar nie, word kinders na ’n plek van veiligheid geneem terwyl hul ouers kans kry om hul lewens te herstel. Indien dit nie binne ’n sekere tyd gebeur nie, word die kinders by vreemdelinge in pleegsorg geplaas. Kinders word ook soms na kinderhuise gestuur.”
Watse trauma ervaar hierdie kinders in sulke situasies?
“Kinders ervaar erge trauma. Vir hulle is die abnormaal, normaal. Dit is steeds hulle ouers en in meeste gevalle mag hulle die ouers vir weke lank nie sien nie.”
“Wanneer kinders weggevat word, is hulle soms histeries. Ons probeer dit altyd so mooi as moontlik doen, maar dit is steeds baie sleg.”




