Onenigheid oor Frogfoot en gemeenskap steeds onopgelos

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. –Die beloftes vanaf die Sol Plaatje-munisipaliteit om die onenigheid oor die onregmatige oprig van “onooglike” swart teerpale deur ’n maatskappy van die Wes-Kaap regoor die stad uit te sorteer, het op niks uitgeloop.

Patrick Mabilo, die burgemeester van Sol Plaatje-munisipaliteit, het dit duidelik gemaak in ’n vergadering met inwoners en die maatskappy Frogfoot twee weke terug, dat hy die erfenis, estetika en belange van die inwoners van Kimberley, eerste en bo enige beleggers van buite, stel. Lees die berig hier.


“As ek moet kies tussen erfenis en beleggings, kies ek erfenis. Dit moet beskerm word. Daar kan geen kompromie wees nie. Dit word nasionaal beskerm,” het hy op die vergadering gesê.


Beloftes om “binne ’n week” die ontevredenheid van inwoners oor dié maatskappy aan te spreek, het op niks uitgeloop nie.


Navrae aan die munisipale bestuurder, Boy Dluwayo, wat dié vergadering gereël het, is gelees, maar nie op gereageer nie.


Frogfoot moes ook luidens die erfenisraad alle teerpale uit die erfenisgebiede van Kimberley verwyder, maar vorder volgens inwoners teen ’n slakkepas, terwyl hulle wél teen ’n spoed aanhou pale in ander areas oprig.
Kayleigh Rossler, woordvoerder vir Frogfoot, het die skedule vir die pale wat uitgehaal moet word aan FiND iT gestuur. By verdere navrae oor hoekom daar nie by dié skedule gehou word nie, het Rossler nie haar foon beantwoord óf FiND iT se vrae beantwoord nie.

Ockie Fourie, raadslid van wyk 25, sê nie die munisipaliteit óf Frogfoot het gehoor gegee aan die vereistes van die grondwet nie. “Wat my grief is hoe die maatskappy minagtend teenoor inwoners optree en pale plant in historiese gebiede, daar waar ander maatskappye moes slote grawe. Sol Plaatje laat dit toe! Nou kan enige diensverskaffer ook daar pale plant. Hulle voel vere vir omgewingsbewaring en die estetika van enige gebied. Nog minder het hulle respek vir vir menings van inwoners.”
Intussen is daar ’n kriminele saak teen Frogfoot by die polisie ingedien.

Kapt. Bashoabile Kale, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak oor die oortreding van die erfeniswet is teen die maatskappy gemaak. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die saak word ondersoek.”