S.P. Mabilo, uitvoerende burgemeester van Sol Plaatje-munisipaliteit, is bekommerd oor die stakings wat die gemeenskap negatief raak.
“Werkers word aangestel om dienste aan ons gemeenskappe te lewer en as hulle nie werk nie, ly die gemeenskap daaronder.”
Vakbondverteenwoordigers
Mabilo sê hulle is bewus van die ontevredenheid van werkers die kwessies wat hulle geopper het, naamlik wanbetaling van verhogings, oortyd tot 30 uur, nie-sit van die LLF, ens.
Verlede week het ‘n afvaardiging van die burgemeester-span met die vakbondverteenwoordigers vergader om enige industriële optrede te verhoed. Dit was tervergeefs.
Druk plaas op die dienslewering
“Dit is ons oordeel dat die situasie nie industriële optrede deur werkers benodig nie, omdat inwoners die gevolge van die stakingsaksies dra. Ons wil egter die kwessies vriendskaplik oplos.”
Mabilo erken in ’n verklaring die stad het ’n groot agterstand met dienslewering. Hy sê dit is belangrik om daarop te let dat hierdie stakingsaksie druk plaas op die dienslewering wat reeds ’n probleem is. Die druk word veroorsaak deur ou infrastruktuur, diefstal en vandalisme van pompstasies en lede van die gemeenskap wat ongewenste voorwerpe in die rioolnetwerk weggooi, wat die hele riool- en waternetwerke in gevaar stel.
“Ons het ‘n drie maande geïntegreerde diensleweringprogram ontwikkel, waar spanne van water, sanitasie, elektrisiteit, paaie en stormwater op ‘n samehangende manier in die wyke werk.”
Uitvoerende burgemeester
Die munisipaliteit het die Departement van Openbare Werke betrek om te help met die slaggate en ‘n tegniese span is saamgestel om ‘n massiewe slaggat reg te maak en wyke skoon te maak om ‘n verskil in die gemeenskappe te maak.
“As uitvoerende burgemeester wil ek alle gemeenskappe, sake-, nie-regerings-, geloofsgebaseerde organisasies en alle belanghebbendes opreg om verskoning vra vir enige ongerief wat tydens hierdie stakings veroorsaak word.”
Mabilo doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om met die munisipaliteit saam te werk, aangesien hulle hard werk om ‘n vriendskaplike oplossing te vind.
“Ons bly gefokus op dienslewering. Kom ons werk saam om die stad te herbou.”



