Betaaldag: jy kry níks

Deel hierdie storie / Share this story

Verbeel jou. Jy word ingeroep vir ’n vergadering en die nuus word aan jou gebreek: jy word nie dié maand betaal nie. Ook nie volgende maand of die maand daarna nie. En as ’n ekstra bonus: jou loopbaan is heel moontlik verby.

Dís die nuus wat op 19 September, 2020, aan 36 Southern Kings rugbyspelers en 16 personeellede van dié unie gebreek is.

https://www.facebook.com/watch/?v=713841279213740

Speel hart uit

Baie van die spelers is jonk en hulle loopbaan het nounet begin. Hulle is uit die skool uit na hulle hulle harte uitgespeel het vir ’n kontrak by ’n unie. Ander is opgeraap vanaf ander provinsies, met die vooruitsig om naam te maak by die Southern Kings.

Dit alles is nou aan skerwe.

Die unie is insolvent verklaar en die spelers, asook personeellede, is net so gelos. Stom. Verslae. Met hope finansiële verpligtinge wat nie binne ses dae voor betaaldag verdwyn nie.

Braam van Straaten, voormalige afrigter van die Kings, sê hy is steeds verslae. “Ek raak emosioneel as ek hieroor praat. Daar is geen ander kontrakte daarbuite nie. Die unies het reeds hulle begrotings spandeer. Die realiteit is, vir baie van die spelers, beteken dit die einde van sy loopbaan voor dit begin het.”

Moes huis en meubels verkoop

Een van die spelers, Cameron Wright, ’n belowende speler wat van die Sharks af kom, het ses weke voor die bom gebars het met sy vrou en eenjarige dogtertjie Port Elizabeth toe getrek. “Cameron moes nou sy huis en sy meubels verkoop.”

“Daar was geen hulp van SARU of die Oostelike provinsie se rugbyunie nie. Geen jammer nie. Niks. Dit is verskriklik.”

Emosionele impak onmeetbaar

Van Straaten het besef hy moet iets doen. “Nie een van die ouens kan glo wat gebeur nie. Jy is verward. Jy weet nie watter kant toe nie. Ek het ’n fondsinsameling begin sodat ons hierdie ouens kan help totdat hulle weer op hulle voete kom. Ek is so bang een van hulle voel hy kan nie meer nie. Die lewe is te veel. Ek wil nie eens daaraan dink nie, maar dit is ’n realiteit. Die ouens het nie ondersteuning nie, niemand bied vir hulle berading nie. Ek weet nie wat die emosionele impak op hulle sal wees nie. Baie van hulle is vir twee jaar gekontrakteer, ander was vir drie jaar. Die ouens se stresvlakke om rugby te speel is reeds so hoog. Van hulle sal weer kan rugby speel by ander unies, dalk oor ’n jaar, dalk oor drie. Maar vir sommiges is dit die einde.”

Aanlynveiling

Care 4 Kings is gestig en van Straaten doen ’n beroep op alle professionele sportlui om items te skenk vir ’n aanlynveiling wat op 16 en 17 Oktober sal plaasvind. “Dit is wonderlik om te sien dat ouens soos AJ Venter video’s doen oor wat hy kan gee. Jy kan dit nou aanlyn koop. Dis ’n geleentheid wat nie voorheen beskikbaar was nie en die bonus is, so help jy die toekoms van môre. Jy help ouens wat groot drome het. Groot harte en passie vir rugby.”

Hoe kan jy help?

  1. Sluit aan by die Care 4 Kings Facebookblad om besonderhede van die veiling te volg.
  2. Ondersteun die aanlynveiling op 16 en 17 Oktober – besonderhede op Facebook;
  3. Kry ’n paar pelle bymekaar, hou ’n pub lunch Vrydag om 12:00 en kyk wie kan die hoogste bie op items wat jy nooit weer gaan kan kry nie;
  4. Gee ’n donasie aan die Care 4 Kings – stuur vir van Straaten ’n e-pos by [email protected] vir die bankbesonderhede.
  5. Pledge jou ondersteuning vir die toekoms van Suid-Afrika met hierdie ontluikende rugbyspelers deur ’n foto of video op sosiale media te plaas met die hutsmerk #care4kings

Van Straaten hoop Suid-Afrikaners sal saamtrek. “Kom ons doen iets goeds. Alles is deurmekaar. Covid-19, misdaad, onenigheid. Hierdie is die geleentheid om iets goeds te doen – net omdat jy kan en omdat jy omgee. Ek gaan vir seker alles in my vermoë doen om in hierdie outjies se lewe ’n verskil te maak deur hulle ’n kans te gee om elders heenkome te soek.”

Volg die Facebookblad hier, die Instagram hier en pledge!