Die sogenaamde lasbrief vir die inhegtenisneming van Ace Magashule is fopnuus. Só sê die Valke.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder vir die Valke, sê die Valke wil hulself kategories distansieer van die IOL-verslag rakende die sogenaamde dreigende arrestasie teen mnr. Ace Magashule.
“Die DPCI beskou die verslag as ’n kwaadwillige bedoeling om die integriteit van die organisasie te ondermyn.”
Die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, het die praatjies dat die nuus oor sy voorgenome inhegtenisname fopnuus was, weerlê. Magashule het aan IOL bevestig hy is daarvan bewus dat sy naam op ’n lys verskyn van mense wat na bewering deur die NVG vir inhegtenisneming geoormerk is.
Na verneem word, sal Magashule in hegtenis geneem en aangekla word oor sy rol in die omstrede Vrede-melkplaasprojek. Hy sal glo aangekla word vir sy beweerde ‘versuim om toesig te hou’ oor die Vrede-melkboerdery-ondersoek.
Magashule was die premier van die Vrystaat toe geld wat bedoel was om opkomende boere te bemagtig, na bewering misbruik is.



