Verdagtes in die hof: Horner-saak uitgestel

Deel hierdie storie / Share this story

Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (43), die twee verdagtes in die Horner-moordsaak, het vandag vlugtig in die Senekal-landdroshof verskyn.

Die 21-jarige Brendin Horner se liggaam is verlede Vrydag op ‘n plaas in die Vrystaat aan ‘n paal vasgebind gekry.

Die twee verdagtes is nie borg toegestaan nie en verskyn weer op 16 Oktober in die Paul Roux-landdroshof.

Ernst Roets, Hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dit is duidelik dat die mense en gemeenskap woedend oor plaasmoorde is en ook oor die feit dat daar eenvoudig nie ’n behoorlike reaksie van die regering is nie. Hy het egter gemaan dat vigilante optrede nie goed is nie en dat die reg sy gang moet gaan.

Basjan, Brendin se broer, het buite die hof hul gevoel as hartseer en rou beskryf. “Woorde kan dit nie beskryf nie. Niks gaan my broer terugbring nie, maar ek hoop dat hy vir sy land gesterf het, vir sy medeboere, sy medeplaasbestuurders en vir ’n beter Suid-Afrika vorentoe.”

Brendin se pa, Robbie, was emosioneel en kwaad buite die hof. “Hulle het die verkeerde man se kind gevat. Hulle het ’n ou Recce se kind gevat.”