Gewigsverlies een ‘positief’ van Covid-19

Deel hierdie storie / Share this story

Helé Wansbury (21), Kimberliet en die eienaar van Fitbury Clothing co., sê noudat sy 8 kg weens Covid-19 verloor het, verstaan sy hoekom almal aan die begin van inperking so baie toiletpapier gekoop het.

“Ek het die Donderdag begin sleg voel. My kop, my lyf en my gewrigte was vreeslik seer en ek was vreeslik moeg. Behalwe vir ’n seer keel en ’n hoesie, het ek geen verkoue- of griepsimptome gehad nie,” vertel sy. “Ek is die Vrydagoggend dokter toe om myself te laat toets. Later daardie dag het ek verskriklike kouekoors gekry. Ek het aanvanklik gedink dis net ‘n gewone verkoue of griep wat besig is om te ontwikkel.”

Sy vertel toe sy egter haar smaak- en reuksintuig verloor, het sy geweet haar uitslae gaan positief terugkom. “Ek het vreeslik diarree gehad en net so baie opgegooi. Só baie dat ek in die tydjie wat ek siek was 8 kg verloor het.”

Wansbury se kêrel, Heinru van Aswegen (31), het die virus glad nie so ernstig ervaar soos wat sy het nie. “Heinru het ook gehoes, maar hy het glad nie koors gehad of soos ek nagte in die badkamer deurgebring nie.”

Zayn (3), Wansbury se seuntjie, het ‘n uitslag op sy lyfie gekry, maar behalwe dit, effense diarree en vreeslike moegheid, het hy nie regtig ernstige simptome getoon nie.

“Toe my uitslae positief terugkom, het ons drie ons maar van ander mense afgesonder. Ons huishulp het nie kom werk nie en ons het maar by die huis gebly. Ons het nou na twee weke weer normaal begin aangaan.

“Ek wens my grootste vyand dit nie toe om Covid-19 te kry nie. Dis ‘n aaklige ervaring. Ek sweer ek het by die dood omgedraai! Ek kan steeds nie al die normale reuke soos koffie of waspoeier ruik nie. En daar is mense daarbuite wat glad nie hulle reuk of smaak weer terugkry nie.

“Die enigste positiewe ding van hierdie hele Covid-19-ervaring, is die feit dat ek ‘n hele 8 kg afgeskud het. Ek het hoeka tydens die inperking bietjie gewig opgetel, so ek kla nie! En ek weet nou uiteindelik hoekom almal so vreeslik baie toiletpapier aan die begin van inperking gekoop het.”

https://www.instagram.com/p/CD6TDXpl8rs/?igshid=1xxic8i6wx9a4